"Ek is so bly ek het julle gevind." |
XXX –My nuwe favourite boldip deur Kenny Hills
XXX – My nuwe favourite boldip deur kenny Hills
So naweek of twee terug het ons die voorreg gehad om weer by ‘n plaasdam te gaan hengel. Die dam is redelik vlak en toe die wind kwaai begin waai het die water letterlik in ‘n sop verander. Hengel was taai. Jou aas skuif die heeltyd. Toe maar geskuif sodat ons die wind so half van agter kry, dan dryf die aas nie meer so baie nie.
Ten spyte daarvan het daar nogtans ‘n karp of drie uitgekom met die babers wat traag was om aan die wurms te byt. Ek het met skoon geel degie gehengel gedip in Vampire Muti en ander hoek MZ – aangesien ek die vorige keer redelik sukses gehad het daarmee. Maar die vis was traag.
As jy water skep om voer mee aan te maak moet die water eers vir tien minute staan vir die moddersop om af te sak. Maar hengel is beter as TV kyk, so ons het maar die wind verdra.
Markus wat saam was het nog nooit regtig in sy lewe gehengel nie. Hom maar effens gehelp. Hy het erdwurms op al die hoeke gesit en vampire bleeding floaties saam opgesit. Toe gooi hy stinkgogga en XXX op die voerbal. Sommer met die eerste gooi vang hy ‘n mooi baber. Ek dog toe by myself – op daai aas gaan hy net babers vang. Hy sit weer dieselfde aas op die hoeke en tjoeps vang hy ‘n mooi karp.
Kyk as die vis traag is om te byt let jy mooi op waarmee die ander vang. Ek besluit om dieselfde te doen aangesien my byte opgedroog het op die degies. Onderste hoek erdwurm en Vampire en boonste hoek stinkgogga floaties. Ander stok onderste hoek erdwurms met Vampire en boonste hoek Chicken blood floaties. Vang ek ook ‘n babertjie. Probeer weer en weer ‘n baber. Ander stok loop ook en vang ek ‘n mooi karp.
Intussen is Markus lekker bedrywig en vang hy ‘n klompie mooi babers en karps. Hy het in totaal 9 visse vir die sessie gevang en by verre die swaarste sak gehad. Maar tussen ons hengel ons, wie die meeste vis vang en ek moes hard spook om een suigbabertjie meer as hy te vang. My totaal 10 visse. Maar ‘n rookie en XXX – my nuwe favourite boldip – het eintlik my gat ordentlik geskop.
Die les wat ek geleer het – elke dip en floatie kom eendag as die wind waai tot sy eie reg. Moet niks onderskat nie – eendag werk dit net.