"Ek is so bly ek het julle gevind." |
Pote Van Rensburg vang 22 visse in 6 ure by Steyns
Oord: Steyns
Oewer: Met die watervlak van Vaaldam wat op die oomblik taamlik laag is, is meeste van die berugte obstruksies agter die waterlyn en hengel die oord redelik maklik. Die oewer is egter totaal onversorg. Op groot dele van die oewer het die otterbossies(snotterbelle) welig gegroei tot ongeveer drie meter van die waterlyn. Die sloep gedeelte by die berugte smal bruggie het geen water nie en die beeste wei daar is lekker lang gras. Sou die dam dus water bykry gaan hierdie oewer byna onhengelbaar wees. Miskien klink alles baie negatief, feit is egter dat hierdie oord gereeld baie goeie vangste lewer. Huidiglik is die oewer wat hengelbaar is steeds 1.6km lank.
Kompetisie: Net ‘n dag langs die water.
Datum: Vrydag 29 Januarie 2016
Die sessie: Ek het besluit om so ongeveer in die middel van die oord te hengel, om die draai op die reguit stuk oorkant Boschkop. Terwyl ek op en af langs die oewer beweeg het,[ ek het penne geplaas vir die Gauteng senior proef wat die volgende dag plaasgevind het], het ek opgemerk dat daar geweldig baie aktiwiteit was baie naby aan die oewer. Daar was veral baie babers, oral op die dam kon jy groot swart kolle waarneem van babers wat wat so in skole saamkoek. Ek het dus besluit om met my 10vt. stok te hengel op 65m. My ander stok het ek gegooi, op wat ek later gemeet het, 110m. was.
Die baie babers het my laat besluit om sommer van die begin af reismiere, met ‘n lang ALM X degie, te laai op een hoek van elke stok. Op die ander hoek het ek ‘n Vampire floatie gelaai met ‘n ALM X degie agter die float. Ek het rietvlei stroppe gebruik met M0 gewigte op die kort stok en M1 gewigte vir die dieper stok, albei stroppe met no.1 hoeke. Ek het op twee kombinasies besluit. Op die bol van my vlakker stok het ek die bol gesmeer met HLX met ‘n bietjie van ‘n toetsproduk wat ek teen die lyn af laat loop het. Op hierdie stadium word die geur nog net 50/50 genoem. In teenstelling met die manier wat Michael HLX gebruik, besmeer ek die hele bol. Op die ander stok het ek een van my gunsteling kombinasie gebruik, ‘n spuit Yellow Navigator met ‘n spuit Gee Bee daaroor en aan die ander kant van die bol ‘n strepie DCX.
Ek het nie nodig gehad om baie lank te wag vir die eerste byt nie, dit was op die kort stok. Met die aanslaan kon ek voel dat dit ‘n redelike vis was. Die reismiere het toe die ding gedoen maar dit was nie ‘n baber nie maar ‘n graskarp in die drie kilogram klas.
Ek het volhard met dieselfde kombinasies aangesien ek ‘n hele paar groot graskarpe kon land, meestal op die reismiere, hoewel daar ook ‘n klompie klein graskarpe die hoek gevat het . Die Noordweste wind het later in die dag goed begin pomp en die byt tempo op my dieper stok het heeltemal afgeneem. Ek het besluit dat dit tyd was vir ‘n verandering. Ek het die boonste hoek gelaai met ‘n Vampire float ‘n ALM X degie en op die onderste hoek slegs ‘n ALM X degie. Ek het op die bol ‘n strepie DCX gegooi met ‘n goeie blerts Grobbies. Skielik was dit asof die ligte aangegaan het. Die karpe wat die heeldag afwesig was het begin hoek vat, meestal op die ALM X degie.
In die ses ure wat ek kon hengel het ek 22 vis gevang met ‘n geskatte gewig van so 35kg. Omdat ek eers onlangs met Magic Baits se produkte begin hengel het, is baie van die produkte en kombinasies vir my nog vreemd. Ek was wel baie beindruk met die verskil wat Grobbies gemaak het, beslis ‘n produk wat ek in die toekoms nog baie gaan gebruik.