MaGic Baits
"Dankie vir n puik produk wat resultate kan wys."
Lukas vd Nest

  

Magic Baits – Riverview Lodge uitnodiging

 

Sowat twee weke of meer terug bel Michael Cato my eendag en vra of ek saam met hulle by Renovaal wil gaan visvang. Ek was stomgeslaan. Vandat hy my ‘n paar jaar terug van Renovaal vertel het, smag my seunshart om daar te gaan hengel. Die eienaars Whitey en Stella van Riverview Lodge het Magic Baits genooi om die naweek van 26 tot 28 Februarie 2016 daar te kom hengel. Die oord bestaan omtrent al ‘n jaar. Ek het eintlik gestotter om ja te sê. En daar draai my kop vir twee weke. Ek kon nie wag vir vrydag 26 Februarie om aan te breek nie. Sommer donderdagnag al klaar my ou Nissantjie gepak om tyd te spaar. Tuis gekom vrydag en gou die drinkgoed en eetgoed gelaai en Viljoenskroon se kant toe laat waai. Ek was vreeslik ongeduldig met die padwerke tussen Parys en Vredefort, al wens ek al jare dat die staat daai pad moet regmaak.

 

Nou ja die lepel maar diep inglê want voor donker wou ek daar wees. Jy ry met die R59 na Viljoenskroon, draai regs op die R501 Potchefstroom pad, net oor die Renosterrivier links op die S641 sowat 8 km draai jy links in by Renovaal, by die vurk hou jy regs en volg die pad na die oord Riverview Lodge. By die hek het ek die vriendelike mense Whitey en Stella gebel om die hek oop te maak.

 

Sommer met die intrapslag het ek gesien die mense woeker met die plek. Paaie netjies, gras kort gesny – gesien die mense gee om vir die plek. Het gestop en vir Michael en die ander mense gaan groet. Ons chalet is aan ons toegewys en ons het gou afgepak. Watter netjiese chalets. Die plekkies is oopplan kombuis en sitvertrek met twee enkel beddens, badkamer en een slaapkamer vir die getroudes. (Lekker plek vir ‘n honeymoon). Die plek was baie stylvol toegerus met die nodige goed om jou verblyf baie aangenaam te maak. Veral die vrouens sal baie van die oord hou. Ons manne kan nogal rof lewe maar ‘n vrou soek ‘n ordetlike badkamer.

po2pic1

  

Slaapplek vir 4 persone

 

Wat my dadelik opgeval het was die stilte. Geen raserige verkeer nie. Net die voëls wat in die bome sing en roep. Ek en Teressa gou die visgoed afgedra met die trappe en alles reggekry vir om te hengel. Daar het so effense donderweer opgesteek. Opgegaan chalet toe, kos reggekry en ons almal het lekker gebraai. Teressa het ‘n bord lekkernye daar uitgepak en die gepekelde tamaties was ‘n groot gunsteling. Kyk sy mag maar. Micheal se skoonpa was die braaier. Hy het my stukkie steak presies reg gaargemaak. Die krag het vir ‘n rukkie afgegaan maar ek het LED ligte, so ons was geholpe. Ons het ons trommeldik geëet. Teen daardie tyd was die weer oor en het ons weer vining afgegaan oewer toe – nou gaan ons ernstig hengel.

 

Ek het vir Michael gevra wat die reseppie is. Kyk dit is die Magic van die Magic Baits hengelaars. Ons almal deel reseppies waarop die vis byt. Ons wil hê dat almal moet lekker visvang. ‘n Vinnige gooi gemaak. Ek het heel eerste my gunsteling kombinasie erdwurm en VRM bleeding floaties geprobeer met VRM, FOXtrot, Stinkgogga en Banana x op die voerbal. Alhoewel die vis gebyt het was ek nie so besig soos Michael nie. Op die ander stok - my ander gunsteling kombinasie van erdwurm en Vampire bleeding floatie met Vampire, Stinkgogga, Banana x en Foxtrot op die verbal (my drie tenore) . Ek het kleinerige vis gekry maar ek weet daar is baie groot vis wat in daardie water rondswem. Maar met die klein babertjies wat begin pla het, het ek maar die erdwurms gelos en Michael se reseppie geprobeer.

 

Kyk ek het nog nooit eintlik al regtig met Swiss en Spookasem gehengel nie. Maar nou ja as die visse wit sjokolade wil hê gee ek dit vir hulle. Op die onderste hoek swiss en spookasem floatie met RPA degie as backing. Boonste hoek VRM bleeding floatie. Op die voerbal VRM, Swiss en Spookasem boldips. Sommer met die eerste gooi kon ek sien dit is DIE kombinasie. Ander stok dieselfde maar Vampire large bleeding floaties op die boonste hoek met Black Magic (garlic strong) saam met Swiss en Spookasem. Maar weereens die vis was agter die swiss en spookasem floaties aan. Later het ek oorgegaan na spookasem gem floaties en die vis het lekker gebyt. Ek en Michael het lekker tot diep in die nag gehengel met mooi vis wat uitgekom het.

  p3p

My eerste mooi Riverview Lodge karp

 

Ek en Michael het omtrent deur die nag gehengel en ons het so maar af en toe ‘n uiltjie langs die water geknip. So twintig oor drie se kant het ek chalet toe gesluip want toe roep daai bed my naam. Saterdag oggend vroeg opgestaan en lyne weer ingegooi. Die vis was aan. Die Swiss floaties het die visse geroep en hulle het tou gestaan om te byt. Ek het ‘n kwaai reel run gekry en met die vaskap voel ek sommer die is ‘n bielie van ‘n karp. Wou vir eers nie omdraai nie maar na ‘n bietjie smeek aan my kant kon ek die vis omdraai. Met Michael se hulp die karp geland. Sjoe toe is ek trots. Kyk ek kon nie meer vis as hulle vang nie, maar die “bregging rights” was nou myne. Ek het die grootste vis gevang – ‘n bielie van ‘n karp 7.5 KG. My smile was amper regrondom my kop. Dit is die grootste karp wat ek nog op Magic Baits gevang het. Ek het al groter baber en graskarpe gevang maar dit is die grootste karp. Ek het sommer gou weer ingegooi want ek weet dit is DIE plek waar ek my persoonlike beste van 45 pond sal kan verbeter. Kon dit nie die naweek regkry nie, maar ek ek sal weer soontoe gaan en wie weet… eendag is eendag dan vang ek daar daai vyftig ponder.

  p4pp5p

Kenny Hills met sy karp van 7.5 KG. Kyk die twee hoeke in die karp se bek. Die karp het sommer albei ase opgetel. So waarop het ek dit nou eintlik gevang VRM of Swiss.

 

Wel Teressa het nie op haar laat wag nie en ons pak slae gegee met die mooi karpe wat sy gevang het. (Lees gerus haar artikel op Magic Baits se website)

 

Saterdag het die watervlak begin styg en die vis het stadiger begin byt. Ek het ‘n vis opgetel wat ek met 15 pond lyn nie kon omdraai nie. Die rem maar effens aangedraai want dit breek of die lyn of ek land dit. Maar groot visse word nie verniet groot nie, hulle is slim. Die vis het teen die kant in die hiasinte in geswem . Ek het die kano gegryp en soontoe geroei maar daar het ‘n boom gelê , lyn het vasgehaak in die in die takke en weg is die vis met die hoeklyn. Ai ek kon dit nie eens sien nie net gesien hoe water wild kolk.

 

Teen laatmiddag het ons weer vure aangesteek en almal weer lekker gebraai. Sommer vroeg gaan inkruip want ons wou drie uur sondag oggend opstaan. Moet sê my battery was maar lekker pap. Drie uur opgestaan en weer begin hengel. Maar met die riviervlak wat opgekom het was die vis traag en het die hiasinte en watergras gepla. Whitey sê hy sal komende week ‘n dik tou in die rivier span en sodoende daai lastigheid verdryf.

 

Ons het so teen elfuur se kant opgepak. Die tyd om die plek te groet het gekom en met ‘n swaar visserman hart het ek die karpe gegroet en hulle belowe hulle sien my gou weer. (Lees gerus die artikel op Magic Baits se website oor Riverview Lodge)

 

Ek wil baie dankie sê aan Michael en Magic Baits asook Whitey en Stella van Riverview lodge vir die voorreg om daar te gaan hengel. Ons het die uitstappie baie geniet.

 

Die plek is ‘n hengelparadys. Daar is baie groot karpe wat in die rivier rondswem. Ek wil sommer gou gou weer daai vis wat nie wou omdraai nie gaan soek. Wie nooi my saam…

  p6p

Sonsopkoms oor die rivier by Riverview Lodge . Kyk mooi na die foto en jy sal die groot karpe nou nou sien draai…

 

Kenny Hills