MaGic Baits
"... that baldip Weerlig is just superb!!!! Out of 17 anglers I was the ONLY one to catch fish. Not just 1 or 2 but 8!"
Bernard Heesen

Jaco Mynhardt Kommandonek 17-07-2016 1 

Goeie dag.

   

Ek het besluit om die dag saam met my jongste sussie te gaan hengel by Kommandonek, Hartbeespoort aangesien vroulief uitstedig was en ek by die huis moes bly. Ons het 05:55 daar aan gekom met so 6 voertuie voor my wat ook wil ingaan. Ek het geweet dit gaan ‘n geveg wees om plek te kry veral toe daar nog so 10 voertuie agter my kom stop het terwyl ons gewag het vir die hek om oop te maak.

   

Het toe deur gegaan en baie rustig gery af water toe aangesien hulle baie moeite doen met die wildskamp met die hoop dat ons ‘n bokkie of 2 kan sien. Wel dit was donker en ons kon niks sien teen die draad met die kar se ligte nie en hou toe maar voort. Ek het besluit om tot heel onder te ry en van daar af te soek na ‘n plekkie. Soos ek af ry sien ek al die manne wat voor my by die hek was terug kom hek se kant toe. Weet toe dat plek ‘n issue is onder teen die lyn draad maar hou steeds voort. Het toe heel onder waar die plaveisel ophou en sien toe ‘n klein twee spoor padjie wat af gaan water toe. Vat toe die paadjie oor die bult en sien ‘n paar voertuie en tente van manne wat oor geslaap het. Ek kry toe ‘n plekkie reg onder die tweede laaste ablusie blok en besluit toe dus waar ons die dag gaan spandeer.

   

Nou ja, klim uit en eerste ding wat ek doen is om die vuur maak hout uit te haal en ‘n vuur aan te steek vir die koue. Hout mooi gepak, vuur aanstekers aangesteek en los toe die vuur dat hy begin brand. Gooi toe vir my en my sus elk ‘n warm koppie boere troos om die oggend reg af te skop.

   

Nou ja, ek is ‘n groot man en daar is sekerlik ‘n wader daar buite wat my sal pas, maar ek het nog nie op hom kon afkom nie. So ja toe trotseer ek maar die koue water om water te gaan skep so dat ek my MAGIC voer kan aanmaak. Toe ek uit die water kom begin my suster so saggies giggle. Ek vra toe wat is fout en sy sê toe vir my ek gaan lekker vrek van die koue want die vuur het sopas gevrek. Ek sê toe ek sal hom weer aansteek maar moet eers my voer aan maak. Vang toe 2 x koppies Magic Baits Plain Popcorn en 2 x koppies Magic Baits Extra Fine Heavy Weight popcorn voer en meng hulle goed deur. Gooi toe 1 en water en meng dit goed deur so dat dit vir 20min kan staan.

   

Nou ja toe is dit ek en daardie vuur. Breek toe ‘n nuwe stukkie vuur aansteker af en gooi in die vuur en steek hom aan. Daar begin die vuur weer brand. Pak toe al my goed af en help my sus haar goed af pak en opslaan. Ek gaan vat toe ‘n merker aan die oorkant van die ower deur ‘n lyn te trek vanaf die oewer met my arms en kry toe waar ons moet gooi.

   

Toe ek om draai, is die vuur weer dood. Ek kyk toe die hout so en sien die hout lyk nat aan die binnekant toe ek ‘n stukkie afbreek. Los toe maar die vuur. Besig om te laai kom my sus van die ablusie blok af en vra of het ek al gegooi. Ek antwoord haar toe “Nee nog nie, ek soek nog die glase”. Net daar bars sy uit van die lag. Lekker manier om die koue oggend te begin. My stroppe klaar gelaai met my gensteling kombinasie vir Harties (Verwys na kombinasie 1 wat ek bo genoem het) op my een stok en iets helemal anders op die ander stok. Gooi toe altweet stokke met ‘n gly/gummy Vaaldam strop met ‘n P4 so diep as wat ek kan.

   

07:58 toe land my sus haar eerste karp van so ±2.5kg. Nou ja, my moed is in my skoene want as sy die eerste vis vang is daar geen stop aan haar nie. Be it as it may, 08:10 toe land ek my eerste karp van so ±2kg op my gunsteling kombinasie soos bo genoem. Laai onmiddelik weer daardie kombinasie so diep as wat ek kon.

   

My ander stok lê toe ‘n uur en ‘n half met geen byt. Haal hom uit en probeer ‘n gekombineerde kombinasie wat ek weet al baie jare lank by Harties werk maar met ‘n twist. Ek vat toe Spyker Groen wat as hoof geur gebruik word aangesien Harties baie lief is vir Amandel en floro en gooi ‘n bietjie in ‘n aparte bottel en gooi nog groen floro by so dat hy swart is van die floro. Nou ja, ek spuit toe dit op die bol saam met Brush Spray want ek onthou my Pa het baie jare gelede goed gehengel met Spirits pitte (Bloutrein Pitte) en ek het nie daai pitte in my kas nie. Ek sit toe nog twee spuite 4x4 by en ‘n streepie Scarlet Boldip op die bol by. Vat toe daardie strop en pos hom so diep as wat ek kan.

   

Presies 30 minute toe trek daardie stok met ‘n spoed weg en ek maak vas… Dis ‘n vettie! Hy hou nie op met lyn vat nie. My polisieman is seker al so 60m in die dam in en net voor hy in die water kon weg raak kry ek die vis gedraai. Speel toe die vis mooi want ek het 5lb lyn as hoof lyn en 7lb hoek lyntjies. Vis besluit hy wil links beweeg na die bure toe maar ek is slimmer. Ek gee hom wat hy soek en beweeg saam met hom links want ek wil die Afstand tussen ons korter maak. Nou ja na so 15min se stoei kry ek hom geskep… Hy is kleiner as wat ek gehoop het maar steeds ‘n prag vis van so 2.5kg.

   

Neem hom na my Magic sling toe om die hoek uit te gaan haal en gaan plaas hom toe in my hou net. Gaan laai my aas presies dieselfde maar wik en weeg of ek nie ‘n spuit Warrior moet by sit nie aangesien die wind opgetel het en sterk van ‘n oostelike rigting waai. Los dit Warrior en gooi hom net so. Die ander stok lê toe net so oor ‘n uur en besluit toe ek gaan hom uit trek en selfde laai as die ander stok maar gaan my strop van ‘n gly Vaaldam strop verander na ‘n gly Rietvlei strop met ‘n M1.5 gewig wat ek dan so diep as moontlik gaan gooi maar vlakker as die ander stok om te kyk of die vis nie vlakker lê nie. Maak toe een verandering op die bol. Ek vervang die Scarlet Boldip met Banana X Boldip en gooi hom toe.

   

Ek het net my polisieman op gesit toe trek my sus se een stok weg met ‘n spoed. Sy maak vas en begin die vis speel. Sy land toe ‘n mooi Karp van so amper 3kg. Help haar die vis afhaal van hoek en gaan sit hom in die net. Oppad uit die water uit trek my diep stok weg. Maak vas en dit voel weer na ‘n mooi vis. Land toe een van so 1.5kg. Besluit toe net daar en dan dat ek die Warrior gaan gooi want die stok het weer 45min gelê en hy is kleiner as die ander vis. Gooi my stok weer so diep as wat ek kan. Weer ‘n half uur toe maak ek vas met nog ‘n vissie van so 2kg. Ek het toe so aan gehou met die kombinasie op beide stokke en het elke 2de gooi ‘n spuit Warrior by gesit.

   

Ek het toe geeindig met 9 vis vir ±30kg met my laaste vis ‘n bielie van so 6-6.5kg om die dag af te sluit. My sus het slegs daar in geslaag om 2 vis te kry.

   

Baie lekker winter hengel sessie in ons Vader se skepping.

   

Groete

   Jaco Mynhardt