MaGic Baits
"... your goodies, to say the least, is far far superior and here to stay."
Richard Venter

Bait boat Fishing Part 3 by Kenny Hills

Hier wil ek ‘n paar praktiese probleme en die oplossings deel.
Voordat ek verder gaan wil ek net noem dat daar, letterlik tientalle verskillende aasbote is. Ek kraak geen boot af of bevorder ‘n ander een nie. Ek deel wat ek ondervind met my toerusting.

Golwe en wind

Een van die aasboothengelaar se grootste vrese is dat die golwe sy boot omkeer. Want as die bootjie sink koop jy ‘n ander een. Selfs al sink dit nie is die elektroniese onderdele moeg en kos dit jou klomp geld om die boot weer reg te maak. As daar groot golwe is hou jou bootjie se neus reguit in die golwe en ry stadig nader. Moenie die golf spring nie. Stop ry stop ry totdat jy oor die golf is. As jou bootjie dwars staan verhoog die kans dat dit kan omval geweldig. Soos met skiboothengel geld dieselfde beginsel hou die neus reguit in die golwe.

So ook met golwe wat die wind veroorsaak. As jy ingaan hou die neus in die golwe en as jy uitkom reg agter die boot. Dit mag beteken dat jy “zigzag “ ry, maar as jou bootjie omval koop jy ‘n ander een. Met my DM craft het ek al in redelike sterk wind en groot golwe my lyne ingevat. Die bootjie het ek al gesien kan redelike golwe hanteer.

Die groot probleem met wind en golwe veral as dit ‘n dwarswind is, skewe lyne. Dit sal jy altyd het, ook agv die stroom wat die golwe en wind veroorsaak, maar jy kan die effek tot ‘n mate beperk. Bv. Soos met ingooi in ‘n wind, loop ek wind op en gooi dan na my merker. Die wind waai die lyn ‘n boog en ek rol die booglyn op, soos ek terug na my stokke toe loop. So kry ek die lyne redelik reguit. Dieselfde met aasboot hengel.Sit die aasboot ‘n entjie wind op en ry met die aasboot wind op na die merker. Die lyn dryf wind af en dan is dit minder skeef.

Ek hengel met groot voerballe, daarom het ek letterlik al my stok opgetel en die lyn styf getrek totdat dit in die lug is, terwyl die aasboot vorentoe beur, om die lyn reguit te kry. As jou voerbal egter te klein is trek jy dit uit die bakkie uit en plons in die water…  Ondervinding is daar maar die leermeester.

Hou jou boot se binneruim droog. Water spat binne in, gooi die water uit of droog dit met ‘n lap op.

My DM craft het die golwe gemaklik hanteer

Hoe gemaak as jy nie ‘n merker het nie?

In my viskas is altyd ‘n permanente merkpen. Ons vat die lyne die eerste keer in met ‘n lyn meter en merk dan ons lyne op dieselfde afstand. So voer ons almal in dieselfde diepte en bou ‘n lekker voerplek.  Soos alreeds genoem op ‘n vorige keer, gaan ek reguit op my linkerkantste stok in. So bepaal ek elke keer dieselfde lyn en die merke op die lyn, die afstand.

Onthou net as die bootjie op die kant is en jy wag vir die vis om te byt is die batterye op “charge”.  As die vis aan die byt kom wil jy nie sukkel  om batterye vol te kry nie. Jy kan nooit te veel batterye hê nie. Hoe stadiger jy ‘n battery laai hoe langer is sy leeftyd. Ek het nie altyd tyd nie, want my batterye ken net een ding – “ full blast”. Hulle leeftyd is dus korter, maar dit is die prys van sukses. Elke jaar nuwe batterye.

Kenny Hills