MaGic Baits
"MaGic Baits is n TOP GEHALTE produk wat altyd kwaliteit is ..."
Dérik Pretorius

Aasboot hengel Deel 4 deur Kenny Hills


“Check” jou aasboot

Ek beplan nou my volgende hengelsessie. Eerstens laai ek al my batterye vir ‘n dag of wat stadig by die huis. Sodat hulle lekker vol kan wees. Ek konnekteer sommer almal in parallel en sit die laaier op “slow Charge”. Laai ook my afstandbeheer se batterye. Die belangrikste deel vir jou beplande hengelsessie het jy nou gedoen. Ek as aasboothengelaar is nie eintlik lekker toegerus om in te gooi nie. Ek hengel met dikkerige lyn en groot aas en ek weet nie meer hoe om ‘n klien voerbal te maak nie. So ingooi is die laaste ding wat ek wil doen. Ek gooi net in as die golwe en wind so erg is dat ek my aasboot nie meer kan instuur nie. Al wat ek hou van ingooi is koeldrankies…

Verder “check” gou my bootjie en sorg dat al die terminale nog gesoldeer is, die propeller reg is, die assie nog geghries is en maak ek seker alles is piekfyn. Ek maak seker my aasbootjie is slaggereed vir die komende slag van Waterloo.

My opinie. Een van die swak plekke van Dm Craft bootjies. Ek soldeer die drade aan mekaar vas, om sodoende los konneksies en wit roes teen te werk.

Die 12 volt na 6 volt  - reguleerder, vir die “receiver” en servo’s

Kragopwekker

Ek weet niemand van ons doen dit nie, maar ‘n goeie idee is om jou kragopwekker te “start” en seker te maak die is nog reg. Veral as dit baie lanklaas geloop het . Kry genoeg petrol en two stroke olie. Kry maar ‘n paar handskoene om die kragopwekker by die water te hanteer. Die petrol en olie en visvang is groot vyande. Was jou hande baie deeglik en smeer iets soos Vanilla of iets wat lekker ruik aan jou hande nadat jy die kragopwekker gehanteer het.

Katrolle

Afhangende met watter tipe katrol jy aasboothengel moet jy ook seker maak die katrolle word gereeld gediens. My vrou hengel met baitrunners en derhalwe sit ek nuwe lyn op so elke 4 de keer wat sy gaan hengel het. Die lyn word so lewendig dat dit onbeheerbaar raak en die enigste uitweg is nuwe lyn. Met ‘n penkatrol of “centre pin” katrol het jy nie die probleme nie en hou die lyn langer.

Stroppe

Ek maak sommer ook vir my nuwe stroppe met NUWE hoeke. Ek het al baie vis verloor deur ‘n hoek wat nie skerp is nie en dan die vis nie lekker haak nie. As jy met dun lyn hengel is dit beter om ‘n kraletjie op jou skaglyn te sit om sodoende die knope te beskerm.  Jy wil hê dat as die vis die aas vat dat die doring sommer dadelik diep haak. Derhalwe vervang ek my stroppe redelik gereeld.  Skerp hoeke vang vis stomp hoeke verloor vis.

Kolgooi

Soos met elke suksesvolle hengelsessie is kolgooi by aasboothengel baie belangrik. Hoe nader jy aan dieselfde kol gooi hoe vinniger groei jou voerplek en vang jy meer vis. ‘n  Fout wat ek nogal veral in die winter maak is om te veel te voer. Ek strooi kaboem mielies en gebruik ook redelike groot voerballe. Die laaste 3 keer was my sukses nie so goed nie. Ek het gesien om minder te voer en die happies op die hoek lekker te geur werk beter. Maar so is hengel. Jy probeer mos maar altyd ander goed en eers agterna dan slaan jy jouself met ‘n krieketkolf tussen die mikke sodat jy pyn aan daai ervaring kan koppel en jy nie weer dieselfde fout maak nie. Ek moet sê ek het ‘n paar keer gewonder of ek nie eerder my hengelmaat daar moet slaan nie – is seker hy sou my beter herhinner want dit is vrek seer…

Merk jou lyn

Merk jou lyn met ‘n merkpen sodat jy altyd dieselfde diepte die aas afgooi en hou rigting op jou stok. Sommer gou sal jy sien jy gooi min of meer op dieselfde plek en bou jy ‘n lekker voerkol. 

Voerbal

Wees innoverend met die voerbal. Sit heel kaboemmielies of ander goed soos erte, hempsaad, tiger nuts of selfs boilies in die voerbal. Ek gooi my sterk geure soos HLX, Cyclone, Warrior, FBI of Stinkgogga in die middel van die voerbal  en druk dit dan oor my “sputnik” vas. As jy die voerbal afgooi word die sagter geure eers vrygestel en dan soos die  die voerbal oplos die sterker geure. Ek moet erken ek sit saam met die sterk geur ‘n lekker soet dip soos Banana x, Foxtrot en Island. 

 

Radio batterye

Koop goeie herlaaibare batterye vir jou radio. Het nou die dag weereens gesien dat iemand ‘n 12 volt alarm battery koppel en inprop in sy radio. Maar hy het die polarieteite omgedraai en poef  weg is die radio en sy aasboothengelsessie is sommer daar en dan beindig. Jy kan dit nie regmaak nie. Jy koop ‘n ander radio. ‘n Duur ondervinding. Omtrent alle radios het ‘n plek langs die kant waar jy eksterne krag kan insit, maar as jy so “conversion” wil doen maak seker jy het ‘n 1 ampere sekering (fuse) in jou kragdraad. So beskerm jy jou radio en verhoed jy dat die radio blaas. Maar 1 ampere niks sterker nie.  Haal jou ander batterye uit as jy eksterne krag  opsit. Moenie jou herlaaibare batterye eers probeer laai via  jou radio nie. Groot fout. Ekself het ‘n lipo battery in my radio. Moes die radio binne sny om dit te maak pas, maar dit is ‘n wenner. Ek het die radio na ‘n expert toe gevat wat die goed ken. Moenie sukkel nie, kry ‘n kenner. Enige goeie hobby shop behoort jou te kan help.

Drywende lyne

‘n Groot gevaar is altyd dat jou aasboot jou lyne optel as jy omdraai. ‘n Keer of wat het ek ook al my lyne opgetel en dan is dit lyne knip, vriende wat kwaad is en is jou hengel bederf. Wees ekstra versigtig in vlak water en as jy met dun lyn hengel. Die lyn sink nie vining nie en dan tel jy dit maklik op.