MaGic Baits
"Eerste hengel sessie met Magic Baits, 22 vis, 2 op Onion Floaties, res op Vampire Bleeding, Boorgat, Groen Spyker en Yellow Navigator op die bol. Gevang by Beesplaas, wat 'n lekker plek"
Hans Barrand


Korrekte sak en weeg van vis deur Johan Oosthuizen

Die hou en weeg van ons vis is tweede natuur by ons as hengelaars. Die probleem is dat nie almal weet hoe om hierdie take reg te doen sodat die hengelaar en die vis ongeskonde daarvan af kom nie. Hier volg ‘n paar wenke en riglyne om hierdie take te verrig.

Weeg van vis:

Weg is die dae waar ons die vis weeg deur die skaal in die vis se kiewe of mond te hak, maar steeds sien ek soveel mense wat dit doen. Die kanse dat ‘n vis wat so geweeg is sal oorleef is uiters skraal.

Deesdae kry ons weegsakke of slings waar ons die vis mee weeg. Die sakke is van ‘n visvriendelike material gemaak en die sakke ondersteun die gewig van die vis.



As jy jou vis gaan weeg, maak seker die vis en die weegsak is goed nat en die vis is veilig op die onthoekmatras(unhookingmat).



Wanneer jy jou vis in die sak plaas en die ritsluiters toe maak, maak seker die vinne van die vis word nie vasgevang in die ritssluiters nie.



Volgende voel jy met jou hande langs die sak af om seker te maak die vis se vinne is plat teen sy lyf en nie verkeerde kant toe gebuig nie. Jy kan maklik vinne afbreek as ‘n mens nie oplet daarna nie en so die vis erg beskadig.



As die vis veilig en nat in die weegsak is kan jy jou skaal gereed kry. Maak seker jy zero jou skaal reg of trek na die tyd die gewig van die weegsak af, anders gaan jy nie ‘n akkurate gewig van jou vis kry nie.



Laastens kom die fisiese weeg van jou vangs. Weeg jou vis oor jou onthoekmatras en tel hom net hoog genoeg van die grond af om ‘n lesing te kry. Sodoende sou die vis val, is dit naby aan die matras en sal dit nie maklik beseer word nie. So het jy jou vis reg geweeg en kan jy hom veilig terug plaas om later genot aan iemand anders te verskaf.

Sak van vis:

Hounette is ‘n algemene gesig langs die water. Baie mense doen moeite deur sagte hounette te gebruik. As jy van plan is om jou vis weer vry te laat is daar net een rede hoekom jy ‘n vis moet sak. En dit is om later ‘n beter foto te neem as kondisies nie nie met die vangs gunstig is nie.

Vir die doel is die karpsak ontwikkel. Dit is ‘n groot sak gemaak van vis vriendelike material wat die vis veilig en kalm hou in die water.



Die eerste stap is om seker te maak dat die sak groot genoeg is vir die vis. Onthou om slegs een vis in ‘n karpsak te plaas en ‘n vis so gou moontlik weer vry te laat.



Maak jou sak deeglik nat en plaas jou vis daarin. Voel met jou hande langs die kante van die sak en maak seker dat die vis se vinne mooi plat langs sy lyf is.



Maak die sak toe en gooi nog water oor die vis. Sak jou vis in so diep water moontlik. Te warm of koue water kan die dood van die vis beteken. Maak seker die sak se koord is lekker lank en die paal of mik waaraan jy die koord vas maak is stewig geanker.

Maak seker jou vis is mooi regop en hou gereeld ‘n ogie om seker te maak dat als reg is met die vis. Julle sal agterkom dat die vis baie lewendig is nadat hulle gesak was. Maak seker die vis is kalm voor jy jou foto neem en maak seker jou vis swem sterk weg as dit vrygelaat word.

Deur net die paar riglyne te volg kan ons die vis bewaar vir mekaar en ons nageslag.

Magic Hengelgroete

Johan Oosthuizen