MaGic Baits
"MaGic Baits het 'n groot aandeel in my sukses en ek en MaGic sal nog 'n lang pad loop."
Marjohn Koster

Hengeles #1

Dit was hier in die vroee 1980's. Ons het saam as gesin met die jeug groep gaan hengel. Die vis byt lekker, die kinders baljaar en grootmense kuier en gesels sulke dik stukke.

Ek het 'n paar 'centre-pin' katrolle op my twee 12 voet 'fibre glass' stokke gehad wat kletter soos 'n Morris Minor wat bearings slaan as die vis op loop gaan. Almal in die omgewing het geweet ek het 'n byt! Insluitende my jongste seuntjie van so 3 jaar.

Jacques sou dan alles net los en hol om vir Pappa die vis te kom skep. Ongelukkig het daar net sulke klein Karpies uit gekom wat in my denim se tiekeisak sou pas.

"Seblief Pa, kan ons die ene hou?" vra Jacques. "Nee seun, hy's dan nog so klein. Hy sal oor sy mamma en pappa huil. Sit maar die outjie terug in die water." So het die die heel oggend gegaan. Katrol hol, Jacques snol, skep vissie, vissie sal huil, gooi visse terug. Die rammetjie kop die hengel-ding nie so mooi nie. Daar's nog nie eers 'n enkele vis in die hounet nie!

Jacques kom naderhand hurk voor my waar ek op my hengelstoel sit. Kyk my vierkantig in my oe met 'n diep frons en vra: "Pa, hoekom vang mens vis?"

(c)  -  Dudley Cato  -  09/12/2012