MaGic Baits
"... ek het al hoe meer vis begin vang en die katrol het gesing soos die vis byt. Baie Dankie vir n puik produk wat regtig werk."
Hendri Bekker

Visgereedskap te koop R5000

Saterdag 18 Februarie 2012

Ek sit die datum eerste neer want dit is die dag wat ek besluit om my hengeltuig neer te lê.  Visvang raak vir my te gevaarlik. Nou die dag die onverklaarbare oë in die dam. Net my beskermengel het gesorg dat ek die aand nie merkers gaan insit nie. Die naweek van die 12 Febr. Die krokkedille by oom Koos Pieterse se plaas en gisteraand en vanoggend ‘n boomstop wat afdryf in die Vaalrivier vir 400 meter of so en dan weer so 700 m terugkom. My beskermengel voel moeg en ek weet nie hoe lank gaan hy nog die hengelpas kan volhou nie. Netnou vat hy ‘n tea break by die viswaters en dan is dit koebaai met my.

So my hengeltoerusting is te koop. Spotgoedkoop. Ek dink na die nabetragting oor die stroom op boomstomp, oorweeg ek om dit sommer verniet weg te gee. Stokke, penkatrolle, aasbootjie, rubber duck, die hele toetie. My bleddie senuwees is gedaan.

Gistermiddag laat gaan kuier ons mos weer by die privaat plekkie bokant Lethabo se keerwal in die Vaalrivier. Gras lekker gesny vir ‘n great kampplek, klippe in die gate gegooi sodat ons nie bene breek nie en reg gemaak vir ‘n nag se hengel. Verlede keer het die karpe ons mos nie rus gegun nie en daarom het ek en Chris vir Irene en Sammy saamgevat om die karpe saam met ons hok te slaan. Kyk as daar baie is om teen te baklei help ‘n ekstra paar hande aan jou kant ook.

Lyne ingevat, VRM en Monster Carp corn floaties aan, VRM en Boorgat op die voerbal. Chris en Irene try een of ander bleeding floaties en selfs Sammy betrag sy nuwe MaGic baits deeglik. Ons weet mos die goeters werk, net die geur kry waarop die karpe wil byt. Ons is slaggereed vir die toustanery van die karps. Genoeg skepnette, ligte, man alles is reg. ‘n Half uur gaan verby en ons probeer ‘n nuwe kombinasie of twee. Maak ekstra voerballe en strooi dit met die aasbootjie op die regte plekke. Een uur, twee ure niks, net een klein plukkie. Trek uit, aikona haak vas. Chris, Irene en Sammy dieselfde. Trek die lyn af is die strop. Nuwe strop aan vat ander rigting in. Niks broer niks. Die visse se bekke is so toe soos ‘n rooi klei os se agterent. Bot toe.

Na baie gepaai en gat lek kry ek darem ‘n karpie en Irene ‘n babertjie. Ek vang toe weer ‘n babertjie of twee en selfs Sammy ‘n first timer op MaGic Baits kry vis. Vang toe weer ‘n babertjie en toe dink ek hier kom ‘n herhaling van nou die dag se hengelvreugde. Telling ek 3 Chris 0 Ek gee toe maar vir Chris ‘n bietjie van dit en dat, want ek wil mos nie hê my vriend moet blank op visvang se nuwejaar nie. Ek het regtig gedink “ We are going to kill the fish tonight”. Ek het my braaibroodjie en stukkie wors so vinnig vinnig met warm koffie afgesluk en gewag. En gewag. Die visse se bekke was toe toe toe. Chris het toe ook ‘n karpie of 3 gevang, maar die visse byt stadig. Pluk effens effens en dan kry hy amper nie die polisieman bo nie. Nie eers ons alarmpies raas nie. Maar die haakplekke bly vreeslik pla. As jy trek strop af. Nou ek vang met 13.6 kg lyn want ek het nie tyd vir die vis om moeilik te wees nie. Ek wen die fight en klaar. Chris hulle 15 pond lyn.

Nou die dag het ons nie vasgesit nie. Ek kry ‘n lekker diep gat daar aan die oorkant en dink nou is ek in ‘n lekker diep gat en gaan die regte groot karpe nou vang. Wensdenkery net nog ‘n vassit. Snaaks egter as die lyne lank lê sit ons nie vas nie. Ek dink toe by myself heng die rivier het mos nie sterk gevloei nie, geen bome het afgekom nie, die oewer lyk nog net soos nou die dag. Chris se aas het so 2 keer net so uitgekom en toe ek kyk sien ek hoekom. Sy floaties was onderstebo aangesit. Ek wys hom toe “this side up”.
Vanoggend kom daar ‘n halwe boom verbygedryf. Dryf naby ons verby so 300 m af met die rivier en die volgende oomblik hier kom dit terug tot so 200 m bo ons. Die snaakse gebeurtenis het hom so klompie kere herhaal. Ek meen totdat ons opgepak het het dit bly gebeur. Ek het toe gedink dit is die stroom wat maal. Maar in ‘n rivier wat lekker vloei? ‘n 2 l koeldrank bottel kom afgedryf en was gou gou gone with the wind. Net die stomp sommer hier by ons lyne. Op en af, maar dit vang nie ons lyne nie...?

Dit is toe dit my strike hier waar ek sit. ‘n Boom wat verby dryf –ok – ‘n boom wat terugdryf? Miskien Maar ‘n boom wat herhaaldelik op en af in dieselfde lyn op en af dryf.

Aikona. Something fishy.

Ek is verder ook seker die karpe het die haakplekke georganize. Hulle het ‘n duikboot gehad om ons dop te hou watter MaGic Baits ons aansit. Hulle het presies geweet van ons doen en late. Dit is hoekom my goedjies in die mark is, - visspioenasie sê ek julle - visspioenasie. Sê nou net ons word gevang? Wat dan? Sal MaGic Baits vir my kinders sorg omdat ek agv gebruik van hulle produkte ook aas geword het? Ek vat nie kanse nie Punt - Uit en klaar

Ek sal maar eerder die Magic op M-net se tv kanaal soek van nou af.