MaGic Baits
"Ons almal weet dat MaGic se produkte puik is..."
Marius Jardin

My blou oog deur Kenny Hills

Ek vlieg duiwe vanaf begin Mei tot die eerste week in Oktober. Dan is hengel maar min want ‘n man kan net by een plek op ‘n slag wees. Kyk dit is egter nie te sê ek dink en droom nie van die visse nie. Ek bedoel my PB het die afgelope paar maande al ‘n hele paar kilogramme gegroei in my drome. Daai karpie is nou al so swaar dat as ek ‘n skets van hom moet maak sal die skets seker meer as 10 kg weeg. Intussen help my facebook vriende my ook nie veel nie. Hulle brek so kwaai met al die visse wat hulle gevang het op Magic baits dat ek nou self al amper al my dips opgesuip het net om darem so ietsie Magic in my lyfie te kry.

Dus as julle miskien ‘n ou spaar boldippie of twee het stuur dit maar aan want teen die tyd dat die duiwe seisoen klaarmaak het ek al myne uitgesuip en wil dan nie droëbek langs die ou vaal visdammetjie gaan sit en kyk hoe die karpies byt nie. Enige geur enige kleur solank dit net Magic is. Kontak my maar vir die posadres....

Maar al die gekarring en die feit dat ek elke dag langs die Vaalrivier werk toe ry het my amper mal gemaak. Daar is ‘n sekere kol in daardie rivier waar daar elke dag so kwart oor vyf ‘n baie groot vis draai. Ek kyk daai vissie nou al lank uit en wag my kans af om dit te kan vang.

En so was my nare droom......

Saterdag sien ek ‘n kar staan presies op daardie spot. Ek besluit net daar en dan duiwe se g......  ek gaan daar ‘n draai maak en daai ou vertel van daai karpie wat daar bly. Ek stop daar en daar staan so frisserige ou en braai ‘n skaapribbetjie op die kole. Stel my voor en bekyk die ribbetjie mooi. Die ou sny ‘n stuk af en praat so kouend, brekkerig hy is ‘n top visserman. Kyk die vark offer my nie eens ‘n happie nie en toe ek die brekgat vra waarmee hy hengel, trek hy weg hy hengel met... Ek vra hom of hy Magic Baits het en hy se hy hengel nie met daai dips nie. Sorry kêrels, toe los my kop my en ek klap daai ou dat jy net skaapribbertjie sien trek. Ek bedoel daai vetties maak so twee keer woer woer om sy kop. Ek bedoel net vir die brek klap ek hom weer so keer of wat, die brekgat...

Die volgende oomblik voel ek ‘n ystergreep hier in my nek soos ek van die grond af opgetel word. Kyk as ‘n ou my diklyfie met een hand van die grond kan optel is hy genuine sterk. Ek los ‘n poep so vrot dat dit ‘n muishond skaam sal laat, spartel los en val op die grond. Spring op en hier staan ‘n groot groot ou hier voor my en vra met ‘n bulderende stem wat hier aangaan. Ek het nie eens gestotter nie en sommer uitgepak. Toe hy hoor ek het die mannetjie geklap oor Magic Baits wil die ou hom ‘n papie lag. Hy vertel my hy het lankal vir die knaap vertel om met Magic Baits te vang en hy wou nie hoor nie. Dus hoop hy die ou is nou oorreed.

My gewete pla my so oor my slegte maniere dat ek toe maar vra of ek sy Magic baits kan sien. Ek “rig” ‘n kombinasie of twee en gooi sommer die stok in daar waar ek my karpie elke dag sien draai. Ek staan nog so half verleë toe daai stok loop asof brandewyn nie brieke het nie. My groot vriend storm daai stokkie en kap so hard dat daai karpie vals tande nodig het. Skep die ou vissie vir hom want my gewete pla my. Jy weet ek is ‘n goeie mens wat my nogal altyd redelik mooi gedra het, tot vandag wat ek gesnap het.

Weeg die ou klien karpie op sy skaal en dit trek daai ou skaaltjie so 3.2 kg. Kyk toe is ek soos die engelsman sê in die pound seats. Ek gee toe maar sommer ‘n hele aaskliniek  oor Magic Baits en watter kombinasies werk. Intussen weer “gerig” en weer op die spot gegooi. So tussen die les deur loop daai stokkie weer en weer ‘n mooi karpie van so by die 4 kg. Die ander ou, Johnny, het toe ook Magic probeer en vang ook ‘n mooi pan size karpie. Toe raak dinge lekker en ek word selfs ‘n stukkie van daai skaap ribbetjie en ‘n koeldrankie geoffer. Ek staan nog so aan daai ribbetjie en lek dat die vetties langs my mond afloop, toe Johnny se meisie met hulle double cab bakkie daar stop.

Kyk mooi is mooi en hier staan ek skaapvet rondom die bek, half windverwaaid en gaap hierdie mooi girl aan. Ek staan toe maar so eenkant toe en vee my mond af. Sy loop na ou Johnny toe en toe sy, sy bebloede hemp sien met sy blou oog, vra sy wat aangaan. Toe kry ek skaam soos nog nooit in my lewe nie, toe hy haar die storie vertel. Ou groot Koos lag nog so uit sy maag daaroor toe die vroutjie na my aangeloop kom. Soos dit ‘n ordentlike man betaam steek ek maar my hand uit (het gewonder of ek haar nie mag soengroet nie) om kennis te maak. Die volgende oomblik sien ek net sterre en proe bloed in my mond. Toe ek bykom nadat ou Koos my met ‘n bietjie brandewyn gelawe het wou ek ook weet wat gebeur het. Die tannie en Johnny was weg. Hoe lank ek uitgeslaan was weet ek nie, maar die son het al hoog gesit. Ou Koos het my toe maar vertel die tannie (sy het intussen vir my lelik en vreeslik oud geword) het haar tweede dunn in karate, en toe sy hoor wat ek aan haar Johnny gedoen het het sy ook gesnap.

Ek weet nie watter pyn my wakker laat skrik het nie, my seer oog en kakebeen, of  die val van die bed af nie, maar elke keer as ek skelm na Teressa kyk vryf sy haar elmboog en smile skelm. Sy sê ek moes my kop teen die bedkassie gestamp het toe ek van die bed afgeval het en my gewaarsku teen sulke wilde drome...

Die dokter sê my kakebeen is nie af nie en ek sal oor ‘n week sonder krukke kan loop. My linkerarm is nog steeds te seer om ‘n visstok vas te hou, so ek sal vir ‘n ruk nie kan visvang nie. Elke dag as ek nou daar verby my karp spot ry, kyk ek nie meer of daai karpie daar spring nie. Daai vis het my in die sop gedrop..... So suig ek maar steeds aan my Magic boldips en droom nie meer van daardie karp nie!!!!!