MaGic Baits
"Michael het 'n ongelooflike passie vir wat hy doen en ek dink ons almal kan dit sien in die kwaliteit van sy produkte."
Marius Jardin

Hengelles #2 deur Dudley Cato

Vroeg een Saterdagoggend hier in die vroeë 80 jare gaan ek en die twee seuns by 'n klein dammetjie, wat aan die dorpie Theunissen se grens lê, hengel.

Daar gekom net voor sonopkoms, stel ons suutjies kamp op om nie die vis skrik op die lyf te jaag nie. Die dammetjie het voorheen al 'n paar mooi karpe gelewer. Toe alles tot ruste kom smelt ons saam met die natuur in.

Die effense oggend briesie speel oor die seepgladde water en jaag die waserige mis eers die kant dan daardie kant toe. Vinke raak heel tjirrend doenig in die treurwilgerboom wat regs van ons staan. Bleshoenders jaag mekaar naby die riete asof hul 'touchers' speel. Sonnetjie steek versigtig sy kop uit en verf oranje skakerings oral waar sy strale land.

So nu en dan verklik 'n draaikolkie karp se kind waar hul teenaan die snotterbelbossies wy. Nét daar waar ons gegooi het. Dis net 'n kwessie van tyd . . . .

Dan, van agter hoor ons die luier van 'n warm gemaakte Ford Cortina V6 wat klink soos 'n Engelse bulhond wat die comrades gehardloop het. Al vier en twintig tappets klap hande soos die skare vir boellie wat by die wenstreep aangekom het verwelkom. Die deure en kattebak word hard, soos 'n viswyf s'n, toegeklap!

En daar verskyn hulle. Twee manne wat lyk asof hulle 'n treindrywer-en-stokerpaar is. Nie so fris nie maar so vuil met drie dag oue stoppebaarde. Hengelgerei, wat eintlik vir diepseehengel bedoel is.

"More, more" se die drywer, "al iets gevang?". Voordat ek kon antwoord gaan drywer voort: "Ons gaan daar annerkant die boom sit." Stoker knik sy kop op en af. "Daar's moewiese karpe onder daai boom!" Stoker knik. "Laas week een daar gekry wat die skaal tot verby 50 pond sal trek!" Drywer beduie met hande so wyd gestrek dat die salpeter sweetringe op sy hemp se onderarms duidelik sigbaar is. Stoker knik. "'n Ander bielie van 'n karp het my lyn gebreek, maar ek het nou 60 pond breekkrag op. Net vandag sien hy sy Moses!" Wys drywer na sy Penn 49 katrolle. Stoker knik nog steeds.

En daar gaan hulle. Annerkant die boom toe. Goeters word neergegooi . . . . miktokke word met 'n 4 pond hamer ingedryf. Drywer gee-skree instruksies en stoker voer hul kopknikkend uit.

Die vinke is tjoepstil en bleshoenders het laat spaander.

Dis doodstil hier by ons ook. Ek dink: "Daar vlieg 'n rustige hengelsessie by die venster uit. Ek hoop die seuns leer ten minste iets uit dit wat hier besig is om af te speel."

Na 'n ruk breek my jongste, Jacques, die stilte aan ons kant met: "Visvang is nie goed vir 'n mens nie."

"Hoekom?" vra ek.

"Pa, dit maak laat mense dan lieg . . . " seg hy.

(c)  -  Dudley Cato  -  2013