"... ek het al hoe meer vis begin vang en die katrol het gesing soos die vis byt. Baie Dankie vir n puik produk wat regtig werk." |
Bait boat Fishing Part 1 by Kenny Hills
Aasboot Hengel (Deel 1)
Die voordele en nadele van aasboothengel.
Voordele
1. Jy kan jou aas enige plek gaan neersit.
2. So diep as wat jou lyne dit toelaat.
3. Baie groot voerballe en hoekase mee hengel.
4. Voerballe en los voer enige plek strooi.
5. Min of meer elke keer op dieselfde plek jou aas afgooi sodat jy ‘n voerkol kan maak.
6. Oor die algemeen baie groter vis vang
7. Hoef nie ‘n kano of ander boot saam te karring nie. (maak net seker jou boot is probleem vry)
8. Hengel met groter aas en dikker lyn
9. Kan ‘n “fish finder” op jou boot monteer sodat jy die vis kan gaan soek.
10. Met ‘n “brushless” motor kan jy die boot se spoed reguleer.
Een groot gevaar vir aasbootjies is motorbote wat naby verbykom en golwe maak wat die boot kan omgooi. |
Nadele
1. Swaar op batterye. Altyd voorsiening maak vir ‘n kragopwekker
2. As die boot gaan staan swem jy. Kans op verdrinking.
3. Boot haak jou lyne.
4. Gedurig kyk vir klippe of iets wat die propeller kan breek. Drywende takke of goeters wat jou bootjie kan beseer.
5. As die wind waai en die golwe is groot kan jy nie die aasboot gebruik nie.
6. Motorbote is ‘n wesenlike gevaar. Al gehoor van ouens wat hengelaars se aasbote optel en dan wegjaag daarmee.
Ten spyte van enige nadele wat daar mag wees oorheers die voordele en hengel ek eksklusief met die aasboot. Sorteer jou aasboot uit sodat dit probleem vry is. As jy sukkel kry hulp by iemand wat bootjies bou. Moenie sukkel nie kry hulp.
Hoe maak mens om doeltreffend met jou aasboot te hengel?
As ek by die oewer kom loop ek altyd ‘n draai by my bure om te vra hoe hulle lyne loop en sommer so vining met die oog te steel waarmee hulle hengel. Meeste van die kere hengel ons groepie met ‘n merker. Drie hengelaars hengel maklik direk op ‘n merker. Links, op die merker en regs van die merker. Ek gooi al drie hengelaars se lyne binne 20 meter van mekaar af. Ek stel dan my stokke so dat ek in ‘n direkte lyn met my linkerkantse ingaan .
Op die manier kan jy glad nie oor mekaar se lyne gooi nie. Veral in die nag het jy dan nie nodig om ‘n baken aan die anderkant te hê nie. Op jou linkerkantse stok reguit in. My boot gooi die linkerkantse bakkie eerste af en dan gooi ek die ander lyn so 5 tot 8 meter regs af. Ek gebruik ook die aasbootjie om te voer. Ek strooi dan die grondvoer of mielies of wat ook al in lyn met die merker. Die merker word net gebruik sodat ons dieselfde diepte kan gooi.
Jy kan met enige stok of katrolle hengel. Ek gee die volgende inligting net as riglyn. Met hengel is daar nie reels waarmee jy mag hengel of nie, maar jyself sal leer koop goeie gehalte produkte want dan koop jy een keer en nie drie keer nie. Maar so leer ons mensdom maar…
My persoonlike opset
1. Twee 13 voet stokke .
2. 2 ShimanoTorium penkatrolle met 30 pond lyn. Ek hengel met 30 pond want ek gebruik die katrolle by die see ook, dan hoef ek nie ander lyn op te sit nie. Jy kan met enige katrolle hengel maar ‘n penkatrol vir aasboothengel is lekker maklik. Geen lyn wat haak of katrol wat haak of ander moeilikhede nie. Een hengelaar hanteer dit maklik, sit die aas in die bakkies en daar gaat jy. Die “centre pin” katrolle is ook reg maar hulle het ‘n een tot een ratio, waar die penkatrolle jou dieselfde voordele bied van ‘n koffiemeul katrol, spoed en kan die “drag”stel.
Daar is verskeie tipes penkatrolle. Vir karphengel is die Elbe, Okuma en Shimano TL 20 goed genoeg. Maar koop een wat nie die beheermeganisme het, wat die lyn self heen en weer op die spoel beheer nie. Daai meganismes hou nie. Punt. Leer self om die lyn te beheer. Glo my jy leer baie vining. As jy kwaliteit wil koo Shimano en Daiwa se see katrolreeks. My opinie.
Met ‘n koffiemeul wen die lyne vreeslik op en moet jy gedurig lyn verander. Met die penkatrol hou jou lyn. Kan met baie dikker lyn hengel. As jy met ‘n koffiemeul aasboothengel gebruik een wat “infinite reverse” het. Hulle hou baie langer. Maar hoe beter die gehalte katrol hoe langer hou dit. Veral die vrouens hou van die koffiemeul met ‘n “bait runner”.
3. Ek hengel met no 7 of 9 hoeke. Ek weet daar is hengelaars wat met klein hoekies hengel en mooi vis vang, maar my oupa het my geleer klein hoeke vang klein vis en ek wil nie kleinvissies vang nie. Ek glo my oupa. Ek los die kleinvisse-vang vir die klein-hoekie-hengelaars. Lol. Ernstig ek hengel met groot aas want ek teiken groot vis. ‘n 3 kg karp het ‘n groot bek, nou ja ek laaik grootbek karps, babers, geelvisse, modderbekke en …. Lions rugby
4. Aasboot - DM Craft wat probleemvry is
5. Kas vol MaGic Baits
Die foto is geneem by Heaven in die Vaalrivier. Die oewer waar ons sit is klein maar deur die stokke reg op te stel is ons soms tot nege hengelaars wat 30 meter oewer saam benut. |