"Dankie vir n puik produk wat resultate kan wys." |
Magic en Kameeldrift deur Kenny Hills
MaGic en Kameeldrift deur Kenny Hills
Saterdagoggend. Sommer vroeg vroeg is my Jeepie en treiler gepak en kies ek koers Vaaldam toe. RPA se gronde iewers op die Villiers pad. Eeers moes ek ‘n stop maak by ‘n duiweboer maar die besoekie was maar blitsig want ek was so opgewonde om te gaan visvang. Kyk my bloed kook dadelik warm as jy hengel praat. Effens verdwaal maar uiteindelik by RPA aangekom. Sommer met die intrapslag sien ek die mense meen besigheid. Kamp is opgeslaan en almal het in afwagting op die kinders gewag.
Fotos is geneem en die borge is bedank. Daar het so twintig stelle staanders met elkeen twee stokke en ‘n viskas met Magic Baits, gereed gestaan en wag om die kinders besig te hou. Groot opgewondenheid het geheers en ek kon letterlik sien hoe groot mense weer stil- stil kinders word. Toe ek die lekkergoed pakkies in die tent sit het die kind in my, letterlik geskree waar is syne, maar....
Die wind was effens knypend met soms regtig koud, maar ons harte was warm. Daar is gevra wie wou die kinders help visvang en nou ja ek moes help. As ek nie gehelp het met die visvang nie sou ek dalk self in die sand gesit en kastele bou het. Die kinders het opgedaag en so skaam skaam elkeen ‘n hoed en t-hemp gekry. In totaal 18 kinders 14 seuns en 4 meisies van Laerskool Kameeldrift. Fotos is ook van hulle geneem en elkeen is na ‘n helper gestuur wat hom/haar soul bystaan en leer vir die dag. My seun se naam was Anton en hy kon bietjie visvang. Michael se seun het ons twee gehelp en ek kon stilweg weer in my hart ook ‘n jong tiener seun wees. Kinderblydskap en vreugde het die stywe grootmens atmosfeer stukkie vir stukkie laat krummel totdat net die kind oorgebly het.
Kenny, Anton en Ronan
Kyk ons grootmense was kompetisie gerig. Geen ander hengelaar sou my klop nie. Gou ‘n kinderles geleer. Dit maak nie saak vir ‘n kind wie wen nie hy wil graag ook ‘n vissie vang. Elke gesoute hengelaar het sy kind geleer aas aansit op die regte manier en touwys gemaak hoe om in te gooi. Party probeerslae was maar toonnaels vêr, maar gaandeweg het elkeen verbeter met hier en dan ‘n kind wat al kon vêr gooi. Die vreugde van ‘n tiener dogtertjie wat ‘n mooi graskarp van so 2 kg vang sal my vir lank bybly. Kyk toe die dogter die mooi vis vang het almal nader gestorm en haar vangs bewonder.
Michael het op en afgeloop en geheime doepas gegee sodat elke kind ‘n vis of drie kon vang met Jaques wat meeste van die tyd soos ‘n afkop hoender heen en weer moes hardloop om ‘n foto van die spogvangs te neem. Die kinders het almal ‘n lekker worsbroodjie onbyt en koeldrank gekry as versterking en terug stokke toe om te gaan hengel. Sommige kinders was egter baie ernstige hengelaars en het bankvas agter hulle stokke gestaan. Ons het gehengel van 10 tot 3 uur maar die tyd het absoluut omgevlieg. Elke kind het ‘n vissie of wat gevang met pary wat die MaGic behoorlik laat kook het en sommer ‘n hele paar gevang. Ai dit was lekker om kinders so sorgeloos in die sand en modder te sien baljaar.
As ek moet dankie sê vir die dag is dit eerstens aan GOD vir die dag wat slegs deur sy genade ‘n werklikheid kon word. Dan die borge, toe ek die idee vir my dogter Karen noem, het sy dit absoluut aangegryp en gou gou ‘n paar borge gekry wat sommer allerhande lekkernye en kos geborg het. My hele gesin het lekkergoed- en kospakkies help opmaak. Ek het gesien hoe mense op facebook sonder om enige dankie terug te verwag die idee van Kameeldrift gegryp het en onbaatsugtige bydraes gelewer het. Het dit oor die visvang gegaan die dag? Nee... oor die kinders