MaGic Baits
"Dankie vir n puik produk wat resultate kan wys."
Lukas vd Nest

Ogies deur Kenny Hills

Ek het die artikel redelik lank terug geskryf toe ek maar nog effens teenwillig met MaGic Baits kennis gemaak het.

Die naweek van 4 Febr.2012 het Sonop hengelklub op Pep Bierman se plaas anderkant Oranjeville gaan hengel. Eerstens wil ons Pep opreg bedank vir die gebruik van die grond die naweek. Ons waardeer dit.

Dit was Vrydag ‘n baie lieflike dag, en ek het gedink boeta die vis gaan die naweek kwaai byt. Wat ‘n ontnugtering. Daar het so ‘n druppel reën geval en toe kom die wind op. So erg dat alle hengel onmoontlik is,behalwe as jy ingooi, en dit reg binne in ‘n kwaai wind. Die wind het so kwaai gewaai dat die voerbal agter jou beland as jy ingooi. In elk geval met die stadige byte, los ek toe nou maar my ou beproefde konkoksies en trek weereens Teressa se viskas met Magic Baits se floaties en dips nader. Ek moes wragtig iets doen want Chris Britz het toe alweer die telling op 4-0 in sy guns. Ek het nie baie geworry nie want ek is mos maar ‘n bietjie stadig, lag eers heelwat later vir gister se grap. Maar soos ek gesê het my goed willie werk nie. Ek kort Magic en sommer vinnig ook, net nou wil Chris ‘n ander hengelmaat soek omdat ek so stadig is.

Wel ek vang toe ook ‘n vis op VRM floatie en erdwurm met ‘n druppel Banana X op die bol en VRM en Boorgat boldips wat ek lekker op die voerbal plak. Ons neem toe ‘n foto.Ek vang toe mos weer ‘n ou babertjie. Maar die babertjie roggel as ek die hoek wil uithaal. Ek kon sweer die baber praat. Ek tel hom toe weer op en so wrintiewaar dit klink of die baber Boooorgat sê met so ‘n growwe rasper stem. Ek roep toe vir Jan Hoffmann nader en sê hy moet luister of hy dit ook kan uitmaak. Maar hy lag vir my en sê ek het ‘n hengse verbeelding. Tot Chris skud net sy kop en loop weg. Ek dog toe by myself ek is simpel, waar kan ‘n vis praat? In elk geval die meneertjie spring toe uit my hand en woerts terug in die water in. Ek haal toe die teling in en toe kom die reën en die wind en ek kan nie lyne invat nie.

Teressa het eers laterig Saterdag daar aangekom en het my gou gou gewys watter kombinasies werk.Sy het visgevang op ‘n HLX floatie, Magic special, Boorgat en JR op die voerbal. Toe vang sy ‘n 3.5 kg karp op ‘n wit degie backing en VRM floatie en Banana X, VRM en Boorgat boldips op die voerbal. Die vis was toe stil en sy krap ‘n Oorlogfloatie, wie weet waar uit, vang nog ‘n mooi karp daarop met HLX, TFC en Gee Bee op die voerbal. Die karpe se smaak was uit want sy het tot op Escape floaties ‘n karp of twee gevang. Sy sou seker baie visgevang het, maar ek moes die score tussen ons gelykmaak en het haar vrek besig gehou met my groot dors wat ek gehad het, met die gevolg dat sy maar stadig aas kon aansit en haar lyne rustig op die kant gewag het totdat my dors gelês was. Soos julle dan sal aflei het ek die rondte hengel tussen ons tweetjies gewen en is die score nou gelyk. Ek moet sê as ek nie 2 van haar visse van die hoek afgesteek het met die skepnet nie, was sy voor. Maar asseblief julle moet nie vir haar sê dit was aspris nie, sy sal my terugkry en dan suffer ek weer vir 3 maande.

Ekself het my visse gevang op VRM floaties en ‘n wurmpie op die onderste hoek en ‘n wit degie met Monster carp op die boonste hoek en VRM en Boorgat op die bal. Ek het ook elke keer ‘n druppel Banana X op die degie gesit. Ek het gevind ek vang beter met ‘n druppel daarvan op die degie. Alhoewel ek elke keer die vis op die onderste hoek gevang het glo ek die kombinasies werk. Ek het probeer om net VRM te hengel, aikona dit willie werk nie en genuine tot Chris het Banana X begin sit op die degie. ‘n Ander kombinasie wat ook vir my gewerk het is wit degie en Vampire floatie op die boonste hoek en wurmpie onder en Beast op die voerbal. Weereens ‘n druppel Banana X op die degie.

Chris vang Sondagoggend ‘n karp van 4.4 kg op Magic Baits se Vampire floaties en HLX, DCX en Just Black op die voerbal. Sy ander visse is gevang op VRM en Monster Carp floaties en VRM en Monster Carp boldips. Irene het ‘n 3.8 kg baber gevang op ‘n wurmpie en Monster carp floatie en VRM en Monster Carp boldips op die voerbal.
Die uitslag was Chris Britz – Swaarste karp 4.4 kg

Jan Hoffmann Swaarste sak (ook van Magic Baits se floaties gebruik wat ek hom gegee het), Chris Britz 2 de swaarste sak, Kenny Hills 3 swaarste sak
Irene Britz Grootste karp 4.1 kg asook die swaarste Baber 3.8 Kg en Swaarste sak 14.1 kg
Marie Hoffmann 2 de swaarste sak en Teressa Hills 3 de swaarste sak

Voorwaar ‘n Magic Baits naweek gewees……Soos die spreekwoord sê- Alle eer aan Ragel de Beer waar Magic Baits val raak die visse mal.

Dit daar gelaat.Vanaand toe ek die fotos edit, natuurlik nou nie om die visse groter te laat word nie, ek lieg nie ‘n gram by nie hoor, toe sien ek dit op die foto. Kom ek vertel van ons omgewing, skuins oorkant ons lê dooie Jim Fouche waar daar jare laas ‘n ou hengel liggie gebrand het.Reg langs ons 2 plase met woonhuise met ligte, regoorkant ons geen plaashuis geen ligte. Daar was nie eers ‘n gedagte van ‘n lig op die oorkantse oewer nie. Nou my vraag, wat was dit?Dit is nie ligte nie, want daar skyn nie ligte aan die oorkant nie. Net een verklaring – oë van iets? Van wat weet ek nie, maar as dit ogies is moet dit ‘n hengse monster wees. Ons almal het sekerlik al in die nag gery en oë langs die pad gesien, hetsy ‘n kat, ‘n jakkals, ‘n bees maar hulle bly nie in water nie, die ding bly in die water.. En dit check my uit!!!! Ek moet sê op daardie tydstip toe die foto geneem is, was daar so ‘n krieweling in my nek en het gewens ek het ‘n Joseph Rogers knipmes in my sak gehad. Nou weet ek hoekom. Ons wou vrydag nag nog gaan merker insit, gelukkig het ons nie, dalk het die ding vir ons gewag.

Oordeel julle maar self wat dit was. Kyk na die fotos.

Nou wonder ek, het die babertjie nie gepraat van Magic baits se Boorgat nie? Hoe het hy geweet van Boorgat? Ek het verlede naweek onder die damwal gehengel in die Vaalrivier? Water wat wegvloei loop nie weer in dieselfde dam in nie. Is daar intelligensie onder visse, dalk ‘n spioenasienetwerk? Ek bel toe rond en ‘n pêl van my in die Breederivier,wat wemel van see babers,vertel my, aikona die visse byt nie lekkernie, en boonop roggel hulle. Ek verduidelik vir hom my storie en eers lag hy maar naderhand toe ek die roggelgeluid namaak sê hy dit is hoe hulle seebabers ook gemaak het.

Nou vra ek, het die nuus van Magic Baits se Boorgat boldip regtig versprei tot in die Suid Kaap en boonop in die see. Ek wens so ‘n ryk ou wil my en ‘n paar vriende sponsor om bietjie die teorie in die Breederivier te gaan toets. Is dit waar of nie? Ek kan nie daai ouens vra nie hulle sal vir my lag. Eerstehandse inligting is mos die beste of hoe?
Ek soek nou net die foto so dat ek dit kan plaas op my facebook wall en toe skrik ek myself melkwit en bewe so dat my tande soos ‘n 3L Ford se tappets klap. Ek moes my broek wat skielik te groot geword het drie keer optrek en dit terwyl ek sit.. Hier is twee fotos net namekaar geneem van die vis wat ek gevang het. Maar op die een foto geen teken van die oë nie, maar die ander foto is dit daar…… Nou worry ek vreeslik, sê nou net ek het gaan merkers insit vrydagaand, eish miskien was ek dan opgevreet. Ek sal nie weer die boldips wat op my hande gemors het aan my klere afvee nie.

Ek bel toe vandag nog ‘n bietjie rond na my pêl in Mosselbaai en vra maar so effens uit oor die visse. Jy weet,ek vis maar so ‘n bietjie. Hy sê toe vir my die Kabeljoue maak sulke snaakse geluide dit klink amper soos ‘n enjin wat ref, so vrmm, vrmm, vrmm. Ek het geen opmerking daaroor gemaak nie, net by myself gedink nou is tot die Kabeljoue VRM bedinges. Hoe weet hulle daarvan?

Ek vra asb.dat Magic Baits die maak van die Boorgat boldip en floaties moet staak, anders is ons hengelaars dalk naderhand ‘n bedreigde spesie. Maar sê nou net hulle was agter DCX, of Banana X, of VRM van Magic Baits aan…

Asseblief Micheal stop! Stop die lorrie netnou word ons gevang by Vaaldam.
My vraag- Bestaan daar regtig ‘n Vaaldam monster of is daar regtig baie grootvis in Vaaldam? Ek bedoel ‘n monster vis…..Soos gesê kyk na die fotos en oordeel self…..

Kyk die ogies – Vaaldam monster?????



 

Geen ogies