"MaGic Baits is nie net 'n besigheid nie, maar is aktief besig om ons sport te bevorder." |
Jag deur Kenny Hills
Jag deur Kenny Hills
Na die visvangstories het ek besluit om tog die verhaaltjies van my wedervaringe ook neer te pen en te deel.
‘n Klompie jare terug gaan jag en en ‘n maat anderkant Ellisras op die Swartwaterpad by tannie Sarie. Sy was al 88 jaar oud en grys en wys. So ‘n lewendige tannie wat jou een kyk gee en tot in jou siel kyk. Pragtige tannie gewees. Sy het 2 plase gehad waar ons op gejag het.
Ons het maar meer en deels vlakvarke gejag omdat dit goedkoop was. Soms ‘n rooibok of twee en selfs bosbokke in die nag geskiet. In elk geval. Ek die die maat kom laatnag op die plaas. Groet tannie Sarie en gaan rondawel toe vir koeldrank en vleis te braai. Na ons so 2 klippe deur die drift getrek het, besluit ons om met my .22 ‘n draai te gaan ry. Net miskien kan ons ‘n haas kry vir die pot.
Ons betrek toe my Hiluxie en ry ‘n draai. So klompie kilometers verder op die teerpad lê ‘n swart Mamba reg in die pad. Ek rol amper die bakkie soos ek vir hom uitswaai, want ek het al gehoor hoe so ‘n slang in die ry ‘n lift gebum het. Nou laat ek nou sê ek en daai slangetjie is bang vir mekaar. Ek weier absoluut om hom ‘n lift te offer. Ek en die maat van my het toe na die amper rol effens gebewe en wou baie graag weer ‘n klip deur die drift trek. Maar dit was by die kamp. Maar die bewe gesluk en ons broeke elkeen afgestof sodat hulle net kon stilstaan.
Daar gaat ons toe verder. So km of drie draai ‘n grondpad na nêrens af en ons kies ons dan die hasepad. So 5 km verder op ‘n draai kry ons een van die wonderlikste diere wat baie min mense al gesien het. ‘n Bakoor jakkals wyfie met 4 kleintjies. Ons het lank vir hulle gesit en kyk totdat daar ‘n haas verbygekom het en ons aandag weer gevestig was. So ‘n ent verder tussen die lyndrade kry ons toe 2 koedoebulle. En ons wonder, instede van ‘n haas wat van ‘n koedoe bul? Maar ons het net ‘n .22. Waar skiet jy so ‘n koedoe en hoe laai jy die koedoe as jy hom skiet. Ons elkeen het vir die koedoebulle deur die teleskoop geloer. Hulle was so naby ek kon tot die sproete in sy gesig sien. Na ‘n rukkie het hulle so ‘n entjie gehardloop en het ons agterna gery en hulle weer en weer bekyk. In elk geval na baie nabetraging en somtyds warm woordewisseling tussen ons en die koedoe en die koedoe en ons, besluit ons, kyk ons is nou al lank hier doenig as iemand ons hier kry en boonop sien ons loer deur ‘n scope na die koedoes is ons in groot moeilikheid.
My voet gly toe van die clutch af soos my been rukkings gekry het en ek vlieg toe daar weg. .22 agter die sitplek en ons kele smag na coke of iets vir die senuwees. Was so 3 km op die teerpad toe kom daar 3 bakkies verby ons gejaag en draai in die einste grondpad in. Boeta toe sit ons harte in ons kele en ek trap daai 2.4 Hilux dat sy tyres fluit. Ek maak gatskoon. So 20 km verder hier lê die einste mamba nog steeds in die pad. Nou is ek amper weer braaf. Skop ankers aan maak ‘n u-turn en stop so 10 meter van die mamba af. Die maat het intussen weer die.22 uitgegrawe en vra my so ewe kordaat, die banggat, wat moet hy doen. Ek sê toe vir hom skiet hom. Die geweertjie het ‘n silencer op en as dit skiet klink dit net soos ‘n poep in die wind. In elk geval ek was so 5 tree van die slangetjie af toe hy hom skiet. Toe die skoot klap kom die mamba so halflyf agteroor en dit lyk vir my hy lewe nog en wou my pik. Daar staan ek toe, heeltemal verlam van die skok. Ek kan nie praat want my spoeg is dikker as tameletjie in my mond en ek proe in elk geval so ‘n stront smaak in my mond. Hy moes letterlik aan my raak voordat ek tot my sinne kom. Maar boeta toe bewe ek en hy so dat tot die Hilux se clutch so du-du-du-du maak. My broek en bene kon nie stilstaan nie. Ek was gerattle soos ‘n vark wat van ‘n lorrie afgeval het en wou ook net briek briek skree.
By die kamp aangekom gooi my maat toe vir ons elkeen ‘n klein brandewyntjie en top die glas op met coke. Na die tweede een was die bottel leeg en het ons amper minder gebewe. My senuwees het net nog so ‘n laaste stuiptrekking of twee gegee toe die volgende gatslag ons tref. Onder deur die deur kom sekerlik die grootste spinnekop ingehardloop wat ek nog in my lewe gesien het. Groter as my hand. Ag shit toe bewe ons weer, so baie dat ek my hele koeldrankie amper uitbewe. Die gedierte hardloopso reg op my af en ek retireer tot agter op my bed. Ek gryp die 30.06 en besluit so ‘n monster het beslis twee skote nodig. Net toe ek die geweer cock sê my maat nee, man die spinnekop is onskadelik. Sal niemand kwaad aandoen nie. Ek sit toe die geweer neer en gryp my slagtersmes. Nou is ek en hy evenly matched. Die spinnekop gryp toe ‘n hottentotsgod en vreet dit hier reg voor my oë op. Wat ‘n aaklige gesig. Dit het 6 duim tande en dan së hy die ding is onskadelik. Ek vertel hom toe, hy moet die ding uitsort anders, anders en ek swaai die 30.06 so effens in sy rigting. Hy staan toe op en spring op die ander bed en kyk waar die gedrog is.
Teen die rondawel se muur so amper gesighoogte is ‘n muurprop, en hy staan met sy gesig so by die muurprop en kyk agter die bed waar die spinnekoppie is. Toe tref die laaste gedierte ons met ‘n “Bang”. Op die muurprop het ‘n reuse groot hottentotsgod gesit en die vlieg reg binne in sy gesig. Die man skrik so groot dat hy genuine 3 somersaults maak voordat hy op sy alie te lande kom op die bed. Boeta toe bewe ons behoorlik. Ek bewe so dat ek tot my stuitjie bene kon hoor klap. Hy het toe ‘n brandblusser bo-op die spinnekoppie gesit en ek het hom gedwing, geweer in die hand, om die gedierte uit die kamer te verwyder. Hy is dan nie bang nie, die groot banggat. Daai spinnekop was so groot dat sy bene weerskante van die brandblusser uitgesteek het. Sê nou net daai ding het jou gesig in die nag beetgekry!!!
In elk geval die tweede botteltjie versterk water het sommer dadelik sy gat gesien en ek was so nugter soos ‘n dronk perd by ‘n watergat. Effens minder gebewe en meer van alkoholvergiftiging aan die slaap geraak as van moegheid. Die volgende oggend was ons maar effens bleek om die kiewe is is eers laterig veld toe. Die varke staan in elk geval eers 10 uur in die bosveld op. Ons het so al langs die rivier gejag en kon nie juis stil loop nie van die bewerasie effek van die vorige aand. Maar nietemin ons loop reg in die middel van ‘n hele trop rooibokke in. Miskien was hulle aand ook soos ons s’n en kon hulle ons nie hoor rondval in die bos nie. Hier staan ek en hy en die rooibokke is letterlik tree van my weg. Hulle is besig om te wei. Nou ja tannie Sarie het gevra ons moet asseblief net vir haar volk ‘n rooibok skiet. Ek sê vir hom skiet. Seker 2 of 3 keer skiet man skiet, jou kans om ‘n rooibok te jag. Hy lê aan en skiet op 20 tree ‘n hele rooibok heeltemal mis. Ek bedoel myle mis. Die rooibokke vlieg toe daar weg en maal in die rondte. Hulle weet niewaar die skoot vandaan kom nie en het ons wat so half agter ‘n boom staan nog nie raakgesien nie. Nou ja ek krap toe my 30 nul ses se kop deurmekaar en skiet ‘n rooibok so loop-langs in die been. Die bok was so naby as ek deur die scope op 4 vergroting kyk is hy weg vat ek die geweer voor my oë weg staan die rooibok mos vir my en smile.
Nou ja sy kopbeen was so seer dat hy net daar bly lê het en vat ons toe die bok vir tannie Sarie se volk. Na swaar dra vir kilometers aan die bok sê vir Klaas daar is hulle bok, hy moet hom slag. So wrintie waar, tune die man my, aikona, ek moet hom vir hulle slag. Ek pomp my kuite styf, en sit af na tannie Sarie. Kyk ek het nou genoeg gehad van die goggas van die bosveld. Sê toe vir haar as ek die bok slag is hy myne. Ek het hom vir hulle gejag, maar wraggies hy kan dit slag. Tannie Sarie het my net een kyk gegee en gesien ek was sekerlik deur woeste wroegings die laaste paar ure. Nou ja ek het die bok geskiet, hom geslag en sy biltonge geeët. Dankie tannie Sarie.
Ek neem toe ten einde laaste die maat van my, kom ons noem hom Koos, na ‘n skuiling in ‘n boom waar hy kon varke jag. Ek kies die veld. Moeilike jag. Jy jag moeilik ‘n vlakvark in die oop veld. Hy kan miskien nie goed sien nie, maar die vark kan goed hoor. Ek staan so by ‘n matoppie boompie in die veld en fluit Sarie Marias. Die volgende oomblik druk ‘n vark mos sy snoet hier meters van my af oor ‘n miershoop. Daar staan ek, fluitjie in die hand, geweer op die skouer en ‘n vark sonder maniere wat my afloer. Ek het die fluitjie maar gelos, later die broek gewas , die geweer stadig tog versekerd van van skouer afgehaal, ‘n patroon in die loop gesit en die nuuskierige afloerder op sy bes gegee.
Ek het seker 5 liter water uitgesweet om die vark tot in die pad te kry, want dit was ‘n groot lelike afloerder van ‘n vark. Nou ja die paar kilometer huistoe geloop die hilux gekry en my varkie gelaai en by koos ‘n draai gemaak. Hy het twee varke geskiet en ons is huiswaarts. Daar gekom is Klaas missing-in-action en moes ek alleen die 3 varke afslag. Koos het op die bed gaan klim en so effens gerus. Ek het afgestap rondawel toe met ‘n bebloede mes in my hand en so effens vir hom verduidelik, hy moet vir ons ‘n vuurtjie maak sodat ons ook kan eet. Jy weet my bene het miskien opgehou bewe maar my lewer het nog nie ‘n oomblik stilgestaan nie. Al wat my effens sou ontgif was kos. Hy wou eer steestribbel maar ‘n bebloede mes naby jou keel laat jou nogal dink dat dit miskien jou bloed kan wees. Ag ek en Koos was jare vriende en het mekaar verstaan.
So het ons jagtog ten einde gekom en is ons sondagaand baie moeg terug huis toe. Lekker boerewors gemaak van die rooibok en vlakvark asook cabanossis en droëwors. Ai ek wens ek kon nog ‘n keer of wat daar gaan jag, maar dit is baie jare terug en die plaas behoort nou aan nuwe mense. Mense wat nooit sal weet van die herhinneringe wat daar gemaak is nie. Al wat vandag oorbly is die heimwee en verlange van ‘n boerehart wat wens hy kon weer ‘n draai loop op daai plaas.....